Baie mense dink dat swaarkry noodwendig straf van God beteken.
Droogtes, aardbewings, kanker, om gestrem te wees,
jou werk te verloor, alles ‘n straf van God…?
Iemand vra of jy jou volle tiende gee, want anders straf God…
God werk dus met oorsaak en gevolg. Onverbiddelik.

Dit is nie die Bybelse boodskap oor Wie God is nie!
Op grond van die versoeningswerk van Christus aan die kruis,
kan Paulus in Romeine 5:1 uitroep dat ons nou vrede met God het!
Daarom sê hy in Romeine 8:1 dat die oordeel
vir God se kinders vergoed verby is!
En in Kol. 2:14 dat die skuldbrief met al sy aanklagte teen ons,
eens en vir altyd aan die kruishout vasgespyker is.
Die implikasie is dat God nie meer sy kinders straf nie!
Hy het ons kant en klaar gestraf, in Christus, aan die kruis!
Paulus sê as dít nie waar is nie,
is ons die hooplooste mense op aarde!
Dan het Jesus se offer aan die kruis jammerlik gefaal!
Dan moet ons koes-koes voor God bly lewe,
en elke oomblik ‘n klap verwag vir iets wat ons verkeerd doen.

Hebreërs 12 praat van God wat ons tug.
Dit het nie te doen met straf vir sondes in die verlede nie.
Tug hou verband met God se liefde,
doelbewus om sy kinders naby Hom te hou.
Treffend sê Hebreërs 12:10:
“Ons vaders het ons wel ‘n kort tydjie na hul goeddunke getug,
maar Hy tug ons tot ons beswil,
sodat ons in sy heiligheid mag deel.”
God se tug trek ons in liefde na God toe!

Tugtiging kan swaarkry en krisisse insluit.
Ons kry swaar daarin, maar kan later soos vers 11 terugkyk,
en weet dat dit ons na God toe getrek het.

God het jou lief. Oneindig lief.

Ernest