Maleagi 2:13-14 is ‘n klipharde woord van die Here,
oor ons huwelikke.
Oral in die land het die mense gehuil en gekerm,
oor die Here hulle offers verwerp!
En dan sê die Here hard en duidelik vir hulle deur sy profeet:
“Julle huil omdat Hy nie meer julle offers wil aanneem nie,
en julle vra: “Waarom dan nie?”
Dit is omdat die Here weet wat gebeur het,
tussen jou en die vrou met wie jy van jou jeug af getroud is,
die vrou aan wie jy plegtig trou belowe het.”
Die fout was nie by God nie.
Die rede was dat die Here weet wat agter toe deure aangaan.
God weet van die egbreuk, dreigemente van egskeiding,
en die chaos in die huwelikke van sy kinders.
God is baie ernstig oor die huwelik as ‘n instelling van God.
Hy laat hom nie bespot met die manier waarop sy kinders
in die huwelik leef en dink God sien dit maar oor nie.
Sy volk pleit tevergeefs by die altare vir vrede en voorspoed,
terwyl hulle hul eie huwelikke minag.
Hoekom het hulle ontrou aan mekaar geword?
Hulle het moeg en verveeld met mekaar geraak.
Net soos vandag nog, wanneer ons nie tot eer van die Here
deurlopend aan ons huwelikke werk nie.
Wanneer jy niks in jou huwelik doen nie, gebeur daar nie niks nie.
Die duiwel bly hard aan die werk in jou huwelik, deurentyd.
Maar wanneer God eerste kom in jou huwelik,
en jou huweliksmaat belangriker is as jyself,
het die duiwel nie vatkans nie.
Die mense in Maleagi se tyd het net nie meer weerstand gebied
teen hul selfsugtige begeertes nie!
Egpare het nie meer hard daaraan gewerk om
in gees en liggaam een te wees nie.
Mense het in hul huise en huwelikke begin leef asof God nie bestaan nie,
ongeag wat hulle met hulle monde buite hul huise bely het,
en op die altare gaan plaas het.
Ons huwelikke lê oop en bloot voor die Here,
al weet net ons wat in ons huise agter toe deure aangaan.
Begeer met jou hele hart om God eerste te plaas in jou huwelik.
En vra die Gees om jou te help,
om tot eer van die Here te leef met jou huwelik.
Ernest