Vuur sal nooit iets word waarmee ‘n mens kan speel nie.
Spreuke 6:34-35 gebruik die beeld van die skade
wat vuur kan aanrig, en pas dit toe op die huweliksverhouding.
“Die woede van ‘n vrou se man is ‘n vuur, sy wraak ken nie perke nie;
Hy laat hom nie afkoop nie, geen betaling is vir hom genoeg nie.”
Dit is seker die twee gevaarlikste vure wat hier ter sprake kom.
Twee vure wat net sonder uitsondering swartgebrande velde,
verslaendheid en wanhoop en trane agterlaat.
Die eerste vuur waarmee jy hier speel,
is om buite jou huweliksverhouding te gaan flanker en fantaseer.
Tuis gaan alles nie so goed nie,
en nie so bevredigend as wat jy dit sou wou hê nie.
En in plaas van om in die Naam van die Here aan jou huwelik te werk,
gaan speel jy buite die huwelik met vuur…..
Die Woord van God sê ‘n mens wat buite egtelik met verhoudings gaan speel,
steek ‘n groot vuur aan die brand wat jy nie kan beheer nie.
“’n Man wat owespel pleeg, moet van sy verstand af wees.”
Maar een brand kan ook die gevolg van ‘n ander brand wees.
Dit is die tweede brand wat verwoesting saai.
Een brandende struik wat ‘n ander een aansteek.
Die brand ín ‘n huwelik, waar gereeld met vuur gespeel word ín die huwelik.
Die brand ín ‘n huwelik, wat die brand van die dwaasheid van
buite-egtelike verhoudings kan aansteek.
Die brand wat deur die tong aangesteek word.
Dit is veral waarna bogenoemde teks verwys, waar die vrou dit doen.
Maar dit geld na beide kante toe, mans en vrouens:
Waar jy die huwelik besmet met jou tong.
Rusies aan die brand steek met woorde.
Jou lewensmaat verwoes met kritiek.
Kommunikasie verskroei met hoogheiligheid.
Hierdie brand veroorsaak die tweede brand.
Die brand van buite egtelike verhoudings.
Dit saai verwoesting wat jou jare laat wakker lê.
Waarom wil jy met vuur speel?!
Ernest