Die hele gebeure rondom tempelbelasting in Matteus 17:24-27 is baie interressant.
Daar is verskillende verklarings vir wat in die stuk gebeur.
Die amptenare wat tempelbelasting invorder,
vra vir Petrus of hulle leermeester ook tempelbelasting betaal.
“Ja, natuurlik”, antwoord Petrus.
Hy gaan dan in die huis in en wil Jesus hieroor uitvra.
Jesus spring hom voor en sê dat konings nie van hul eie seuns belasting vra nie.
Dit beteken dat ook hy, as Seun van God, eintlik vrygestel is van tempelbelasting.
“Maar” sê Jesus van vers 27 af, “…ons moenie hierdie mense aanstoot gee nie.”
En dan sê Jesus hierdie merkwaardige woorde:
“Gaan see toe en gooi hoek in, en die eerste vis wat byt, moet jy uittrek.
As jy sy bek oopmaak, sal jy ‘n silwermuntstuk daarin kry.
Vat dit en betaal hulle die belasting vir My en vir jou.”
Onthou, Petrus is ‘n visserman.
Onthou ook dat tempelbelasting nie hoog was nie.
Selfs die armstes kon dit betaal.
Jesus wil met hierdie gebeure, onder andere, aandui dat God voorsien.
Hy voorsien ook dit wat Hy vra.
Maar God voorsien ook deur gewone daaglikse arbeid.
Petrus, wat ‘n visserman van beroep is,
beleef dit in hierdie besondere gebeure.
Met ‘n dag se werk kan hy ook genoeg maak om te gee wat God vra, want God voorsien.
Hy moet ook ontdek dat ons nie ‘n “issue” daarvan moet maak
om vir God se tempel te gee of nie te gee nie.
God sal in elk geval voorsien dat ons kan gee.
Ernest