Galasiërs 5:22-23 praat van die vrug van die Gees,
wat so ‘n wonderlike eenheid vorm.
Die nege dele van die vrug vorm saam ‘n eenheid.
Liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid,
getrouheid, nederigheid, en selfbeheersing,
is alles deel van die een vrug van die Gees.
Soos die skyfies van ‘n lemoen of nartjie,
waar die eenheid van skyfies en skil onlosmaaklik verbonde is.
Die Heilige Gees beheerde mens kan nie kies,
of net sekere dele van die vrug hê nie.
Jy kan byvoorbeeld nie oor geduld sê “ek het nou maar ‘n kort humeur nie…”
Jy is onder leiding van die Heilige Gees soos ‘n nartjie,
met baie skyfies, almal ewe geurig.
Dit is die wonderlikste boodskap van ‘n eenheid in die kind van die Here!
Jy in Christus, en Christus in jou, deur die Gees!
In Romeine 3:9-18 vind ons ‘n ander, skrikwekkende, eenheid.
Daar is die Bose in beheer. En daar is ‘n ewe hegte patroon.
Jy herken sonder uitsondering die stem van die tiran,
in die stemme van sy onderdane.
Jy hoor sy voetstappe in die voetstappe van sy onderdane.
Jy herken sy hand in die dade van sy onderdane.
Hoe praat en doen die wat in die greep van die sonde is?
Hulle praat sonder om na die wil van God te vra.
Hulle tree op sonder die wysheid wat van Bo kom.
Hulle bedrieg met die tong.
Vermoor mense met woorde en dade.
Is so giftig soos slange.
Stort vervloeking en bitterheid oor ander uit.
Hulle hardloop weg wanneer hulle verwoesting en ellende gesaai het.
Hulle ken nie die pad van vergifnis, vrede, en genade nie.
Die vrug van die Gees lei ons van hierdie bestaanswyse af weg.
Die weg wat deur die Vredevors oopgemaak is,
is die pad waarop onder leiding van die Gees geleef word.
Laat die Gees jou vrug dra?
Of volhard jy met die werke van die vlees?
In watter eenheid leef jy?
Ernest