1 Petrus 1:17 sê:
“Aangesien julle Hom as Vader aanroep,
wat oor elke mens onpartydig volgens sy dade oordeel,
lewe dan in eerbied vir Hom,
gedurende die tyd van julle vreemdelingskap in die wêreld.”

Daar is baie soorte vrees.
Vrees dat jou sonde op die lappe kom.
Vrees vir geweld of mishandeling.
Vrees vir werkloosheid of siekte.
Maar daar is ook ‘n soort “vrees”,
wat met “eerbied” vertaal word.
Dit gaan oor eerbied vir die Here!

Die resultaat van eerbied vir die Here,
is dat jy gou agterkom jy leef in vreemdelingskap in die wêreld!
Christene het ‘n totaal ander lewensingesteldheid,
as die mense van die wêreld.
Ons glo dat die huwelik heilig is, dat vergifnis altyd moontlik is,
dat alles ten goede meewerk vir die wat God liefhet.
Ons glo dat mense wat hul afhanklikheid van God bely,
sterker is as die wat dink dat hulle sterk is, en onafhanklik wil lewe.
Ons glo dat ons tyd, besittings en talente nie aan ons nie,
maar aan God behoort.

Ons is vreemd vir die wêreld. Ons dink nie so nie. Maar dit is so.
En dit is juis omdat ons eerbied vir die Here het!
Ons het nie noodwendig met al hierdie dinge rekening gehou,
toe ons besluit het om Jesus te volg nie.
In die gloed van die eerste liefde en trane, van bekering en berou,
het ons nie diep nagedink oor al die gevolge van
kind van die Here te wees vir die res van ons lewe nie.

Maar weet dit:
Die goeie nuus is dat die vreemdelingskap ook die werk van
die Heilige Gees in ons is. Dit is die Gees wat ons verander!
Ons hoef die veranderinge nie een vir een te oordink,
of te oorweeg nie.
Hoe meer ons onder beheer van die Heilige Gees leef,
hoe meer wórd ons net vreemdelinge in die wêreld.
Alles omdat ons in eerbied vir die Here leef!

Wat ‘n lewe!!
Wat ‘n toekoms!

Ernest