Psalm 16 is ‘n besondere Psalm om te lees.
Dit is as’t ware of die Psalmskrywer sy seëninge tel.
Die dinge wat hierdie skrywer eeue terug as seëninge beleef het,
is vandag nog net sulke groot seëninge!
Wanneer ons die Psalm lees, en jy moet dit gaan lees,
kan ons as’t ware die dinge afmerk, een vir een,
wat nog steeds vir ons seëninge is.

Die skrywer weet dat hy altyd by God kan skuil.
Hy weet dat hy aan God behoort.
Hy weet God is sy Bron van goedheid.
Hy weet dat God leef, en dat afgode dood is.
God is sy lewe.
God sorg vir Hom.
God gee alles wat hy ooit sal besit aan hom.
Wat God gee is ‘n pragtige deel, net die beste.

God het die skrywer se insigte verander,
en aan hom die regte insigte gegee.
Snags bly hy bewus van wat God hom leer.
God is altyd by hom.
God weerhou hom van struikeling.
God leer hom hoe om te lewe.

Hoe langer hy God ken,
hoe meer vind hy oorvloedige blydskap in Hom.
Uit God se hand kom net wat mooi is.
Hy is ‘n liefdevolle Vader vir sy kinders.

Jy kan hierdie seëninge ook so een vir een afmerk in jou lewe.
Ons het dit, maar waardeer dit nie.
Eers as dit van ons weggeneem word,
besef ons watter geweldige verlies ons ly.
Kan jy ‘n pen neem, en enige van die seëninge wat in
hierdie Psalm genoem word, maar wegskrap uit jou lewe?
Dat God dit maar van jou kan wegneem?

Gaan lewe met dankbaarheid vir elkeen van hierdie seëninge.
“U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap.
Uit U hand kom net wat mooi is.” – Psalm 16:11.

Ernest