Die Duitse teoloog, Helmut Thielicke,
het aan sy outobiografie hierdie titel gegee:
“As gas op ‘n skone planeet”.
Hy het gesê ons is almal gaste van hierdie planeet.
Ons kom kuier maar so sewentig tot tagtig jaar hier.
En ons sê vir mekaar: “Die tyd vlieg!”
Eintlik bly die tyd. Dit is ons wat deur ons afgebakende tyd vlieg.
Psalms, Spreuke en Prediker praat dikwels van ons verganklikheid.
Dit is ‘n lewensfeit: Die lewe is baie kort!
Dawid het dikwels met God hieroor gepraat in sy Psalms.
Sy groot gebed was dat die Here hom moes help
om sy lewensdae reg deur te bring.
In Psalm 39:2 skryf hy:
“Ek wil sorgvuldig let op my lewe, en nie sondig met wat ek sê nie.
Ek wil nie ‘n woord praat as ‘n slegte mens my teëstaan nie.”
Hoekom nie?
Omdat hy God wou behaag met sy hele lewe.
Ook omdat hy weet dat jy na jou dood voortleef,
in die gedagtes van die wat jou ken.
Dawid dink onophoudelik na oor waarom God
Hom so deurlopend bemoei met nietige en verganklike mense.
Ons sorg nie eers vir die verganklike kosmosblom nie.
Ons gee nie onophoudelik beskerming aan ‘n grasspriet nie.
Ons stort nie ons liefde uit op ‘n vlieënde mier nie.
Maar God doen dit! Onophoudelik!
Hy sorg vir elke mikrodeel van die kosmos.
En veral vir elke mens wat so verganklik soos ‘n vlieënde mier is!
Ons kan God net bly loof en dank hiervoor!
Ons is ondenkbaar klein. God is ondenkbaar groot.
“…wat is die mens dan dat U aan hom dink,
die mensekind dat U na hom omsien?” – Psalm 8:5.
Ernest