Paulus het, net soos Dawid, baie nagedink oor die lewe.
En dan sê hy in Filippense 1:20-21:
“Dit is my vurige verlange dat ek niks sal doen
waarvoor ek my sal hoef te skaam nie.
Ek wil Christus verheerlik in lewe en in sterwe,
want om te lewe, is vir my Christus,
en om te sterwe, is vir my wins.”
Jou lewe gebeur net een keer in ‘n leeftyd!
Jy weet dit, maar dink jy grondig na daaroor?
Dink jy ooit na oor wat jy doelbewus vandag
met jou lewe gaan maak?
Of leef jy dit maar so terloops, dag na dag?
Paulus het oor sy lewe en lewensbeleggings nagedink.
Hy het besluit hy wil niks doen,
waarvoor hy hom voor Christus hoef te skaam nie.
Hiedie keuse bepaal ook wat hy doelbewus besluit om nié te doen nie.
Wat hy wel wil doen, is om Christus met sy hele lewe te verheerlik,
ja, selfs in sy sterwe.
Wat wil jy met jou lewe doen en bereik?
Wil jy nog eers later daaroor besluit?
Waarin soek jy sin en vervulling?
Die volgende Skrifgedeeltes kan ons help:
Psalm 63:5: “Ek sal U my lewe lank loof…”
Speuke 12:28: “Gehoorsaamheid aan God lei na die lewe…”
Spreuke 14:27: “Wie die Here dien vind daarin ‘n bron van lewe…”
Johannes 3:36: “Wie in die Seun glo, het die ewige lewe….”
In Johannes 8:12 sê Jesus: “Wie My volg,
sal nooit in die duisternis lewe nie…”
Johannes 14:6: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe.
Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.”
Een lewe. En ek dink dit is mý lewe. Is dit?
God is die Gewer van jou lewe.
En wanneer ek my lewe vir God teruggee,
vul Hy dit met alles wat op aarde onbekombaar is.
Hy vul dit met sy krag, sy insig, sy wysheid van Bo,
sy wil en sy heerlikheid.
Verheerlik God met jou één, baie kort lewe.
Ernest