In Jeremia 20:9 sê hy:
“En wanneer ek dink ek sal my aan Hom nie steur nie,
en nie meer in sy Naam praat nie,
dan word dit in my soos ‘n vuur wat brand,
en waarvan ek nie kan loskom nie.”

Ons ken eintlik self ook hierdie twee vure,
die twee vure waartussen Jeremia hom bevind.
Aan die een kant is die vuur van hoon,
die smadelike belediging en bespotting deur mense,
omdat hy die Naam van die Here verkondig.
Aan die ander kant is die vuur van God,
die vuur op sy rebelse gees om te wil ophou,
om te wil ophou om die Naam van God te verkondig.
Tussen twee vure…

Jeremia sê hy is sat van die bespotting en hoon van mense.
“Om aan te hou om die woord van die Here te verkondig,
beteken vir my net vernedering en bespotting heeldag deur.”
Hoe kan ons nie dikwels met Jeremia identifiseer nie!
Sal dit nie bevrydend wees om die mense net een keer te wýs,
op die hárde manier te wýs….wie is God nie…
en ek is nie so naïef as wat hulle dink nie.

Toe breek Jeremia weg,
van die vuur van hoon en bespotting en smaad.
Die vuur waarvoor hy nou sat geraak het…
En net daar word hy gestuit deur die ander vuur.
Hy is tussen hierdie twee vure!
Hierdie vuur wat hom noú stuit, is die vuur van God.
Die vuur waarvan bogenoemde teks praat:
“En wanneer ek dink ek sal my aan Hom nie steur nie,
en nie meer in sy Naam praat nie,
dan word dit in my soos ‘n vuur wat brand,
en waarvan ek nie kan loskom nie.”
God bly ons herinner aan sy goedheid, én sy toorn.
God laat Hom nie vergeet nie.
Hy wil nie dat ons oor die afgrond stort nie.
Hy laat sy vuur brand tussen ons en die afgrond.

Deur die wêreld word ons gebrandmerk as dié wat nie inpas nie.
So dikwels word die kerk van die Here, ons,
met hoon en smaad en spot behandel. En ook ons as indiwidue.
Maar as ons, soos Jeremia, uit ons roeping wil wegbreek,
brand die vuur van God in ons.
Die wete dat ons na ons roeping moet terugkeer.
En uiteindelik begeer ons hierdie vuur….
Hierdie vuur van Jeremia 23:29:
“My Woord is soos vuur, sê die Here,
soos ‘n hamer waarmee klippe stukkend gebreek word.”
Hoe juig ons nie oor God se vuur nie!

Ernest