“Die brood wat God gee, is Hy wat uit die hemel kom,
en aan die wêreld die lewe gee.” Joh. 6:33.

Toe Jeremia hom nie meer aan die Here wou steur nie,
en nie meer in sy Naam wil praat nie, Jer. 20:9,
wou hy eintlik maar ophou om die brood wat God gee uit te deel.
Brood stil jou honger.
Vir baie volke is dit die stapelvoedsel wat hulle aan die lewe hou.
Die brood wat God gee is ‘n Persoon, Jesus Christus,
en Hy stil jou ewige geestelike honger.

Ons kan onsself om die bos probeer lei met ‘n oorvol program,
oefensessies, studie, werk, inkopies, gesinsversorging, wat ookal.
Maar onstilbaar en onversadigbaar,
sal jou gees bly roep na jou Skepper.

Ons het die Brood van God broodnodig!
Alle mense het God se brood broodnodig.
Ons het Jesus Christus broodnodig om te oorleef, en te lééf!
Wanneer die Heilige Gees met ons besig is,
besef ons net eenvoudig op ‘n punt,
ons moet hierdie vraag beantwoord:
“Waarom betaal julle vir iets wat nie brood is nie,
waarom werk julle vir iets wat nie kan versadig nie?”

Dan besef ons, dat God self ons roep,
om in ‘n nuwe bestaan saam met Hom te leef!
Treffend roep God ons met Jesaja 55:2-3:
“Luister aandagtig na My, sodat julle kan eet wat goed is,
en versadig kan word met die beste wat daar is.
Gee aandag en kom na my toe, luister, en julle sal lewe.”

Ons moet die brood wat die Here gee.… eet!
Ons moet alles verteer wat Hy ons gee om te eet.
Ons moet toelaat dat die Heilige Gees dit ons bestaanswyse maak.
Wanneer ons so gevul word met God se liefde,
deernis, krag, wysheid en insig van Bo,
sal God groot doen deur ons.
Ons sal vir hulle wat honger, verlate en eensaam is,
gaan brood uitdeel.
God se brood!

Ernest