Matteus 13:25 sê dat die Bose juis kom vernietig,
as ons “aan die slaap” is.
Hy kom wanneer ons nie wakker en nugter is nie.
Hy kom subtiel en sonder dat jy dit weet.
Hy ondergrawe en saai verwoesting,
juis ook deur hulle van wie jy dit nie verwag nie.
Die duiwel kom nie altyd oop en bloot,
dat ons hom maklik kan raaksien nie.
Hy is die engel van die duisternis,
wat hom voordoen as die engel van die lig.
Jesus vertel ‘n gelykenis om dit te beklemtoon.
Hy sê in Matteus 13:25:
“Een nag, toe die mense slaap,
het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai,
en verdwyn.”
Die mense van die koninkryk van God,
leef sy aan sy met die mense van die wêreld,
mense wat die Bose aanhang.
God verwyder nie die aanghangers van die Bose tussen ons uit nie.
Die wêreld is die wêreld van ons én hulle.
Ons sal die wêreld nie volkome gesuiwer kry van alles
wat boos en teen die wil van God is nie.
Maar dit is juis in hierdie onkruid-gevulde saailand
waar God die kinders van sy koninkryk doelbewus plaas!
Juis hier moet ons Christus gelykvormig leef.
Hier moet ons getuig, en deernis en liefde betoon,
en skyn soos lig in die duisternis.
Die mees ontstellende aspek van hierdie gelykenis,
is dat die Bose sy verteenwoordigers plant,
en sy onkruid saai “terwyl die mense slaap.”
Waar daar nie werkers op die land is nie,
of waar werkers hope argumente het teen
betrokkenheid by die belange van God se koninkryk,
waar gestuurdes aan die slaap is,
daar lê God se saailand oop en onbewaak.
En juis dan en daar stap die Bose met sy saaisak, en saai…
Nadat sy medewerkers gesaai is,
kan die vyand as’t ware aanbeweeg,
“verdwyn”, sê die gelykenis,
want hulle is genoeg deurtrek van sy venyn,
om verwoesting te saai.
Het ons, wat kinders van die koninkryk van God is,
al soveel aan die Heilige Gees oorgegee,
dat ons waarlik soos kinders van sy koninkryk kan lééf?!
Dra ons oorvloedige vrug te midde van die res van die land?
Glo ons dat bekerings nog in die land vol onkruid kan voorkom,
waar die Bose gesaai het?
Glo ons dat die Woord van God, wat ons uitdra en uitleef,
nou, meer as ooit, saak maak en impak het?
Wys jou lewe dit?
Ernest