Loop jy padlangs of langs die pad?
Ons loop so maklik ons eie pad, net langs die pad van God.
Dan dink ons dit is goed,
want ons is darem nie heel van sy pad af nie.
Regtig nét langs sy pad. So naby as wat ons kan.
Dit gaan nie hier daaroor om wetties te leef nie.
Wanneer Psalm 119:35 sê: “Laat my wandel volgens U gebooie,
want daarin vind ek vreugde”,
dan gaan hierdie vreugde juis oor jou verhouding met God.
Dit wat jou laat vreugde vind in sy wil.
Wettiese godsdiens gee jou geen vreugde nie.
In wettiese godsdiens is jy eenvoudig nooit “goed genoeg” nie.
Veral nie soos jy dink “in God se oë” nie.
Vraag is of God se wil wel vir ons belangrik genoeg is.
Dink ons regtig ons kan aanhou sonder ‘n rusdag?
Dat ons as bevryde mense God se Naam binne die letterkunde,
en teater, en in flieks kan gebruik om emosies sterker uit te druk?
Dat die generasiegaping ons eer aan ons ouers kan wegneem?
Dat tydsdruk en werksdruk ons kan bly verhoed om saam te gaan aanbid,
of alleen in die binnekamer God te ontmoet?
Die skrywer van Psalm 119 vra iets geweldigs van God:
“Weerhou my van ‘n nuttelose lewe,
laat my leef op die weg wat U aanwys.”
Dit gaan vir hom juis oor sy verhouding met God.
Hy vra God om hom te help,
om saam met God op God se pad te leef.
Nié om net langs die pad, “naby genoeg”, te leef nie.
Vir die skrywer is ‘n nuttelose lewe
‘n lewe op ‘n ander pad as God se pad.
Al is daardie pad net langs God se pad, “naby genoeg”.
Leef op God se pad.
Vind jou vreugde in God se wil!
Loop saam met God, op sy pad!
Ernest