Kos is ‘n belangrike en selfs emosionele saak.
Koninkryke het al geval omdat mense nie genoeg
kos gehad het om te eet nie.
In die koninkryk van God is kos ook ‘n belangrike saak.
Geestelike kos!
Die Hebreër-skrywer sê in Heb. 5:12 en 13:
“’n Mens moet julle met melk voed en nie met vaste kos nie.
Iemand wat nog van melk lewe,
kan nie saampraat oor wat reg en verkeerd is nie,
want hy is nog ‘n kind.”
Dit gaan daaroor om gevoed te wees met geestelike kos.
Dit is die ware en vaste kos wat jy nodig het vir ware lewe.
Kyk maar net na kos in die gelykenis van die verlore seun.
Dit is die verhaal van ons hemelse Vader en sy wegloopkinders.
Wie is hulle? Ons!
Die verlore seun sit by die varkhok en staar,
na die gemors wat in hierdie wêreld as kos aangebied word.
Die gemors is goed genoeg vir varke,
maar nie vir hom as kroon van God se skepping nie.
Watter kos eet ons tans? Varkkos, of God se kos?
Eet ons tans die geestelike voedsel wat bestem is vir ons,
as die kroon van God se skepping? Die verborge manna?
Die brood en manna waarna Jesus so dikwels verwys het?
Hoeveel hiervan proe jy daagliks?
Of sit jy ook in ‘n ver land? Dalk in ‘n varkhok?
Die herinnering aan goeie kos kan jou jou bondel laat optel,
soos hierdie verlore seun, en die lang pad huistoe laat aanpak.
Terug na jou Vader toe.
Die Vader in hierdie gelykenis is jou hemelse Vader.
Die kos wat Hy vir sy mense bied se voorraad sal nooit opraak nie.
Die kwaliteit daarvan is lewegewend en sal nooit verander nie.
Dit is daar vir jou, en dit is genoeg vir elkeen wat daarna smag.
Ernest