Is jy ‘n oorwinnaar, of kom jy net orent?
Is jy ‘n “survivor”, ‘n oorlewende?
Of is jy ‘n triomfantlike geloofs-oorwinnaar,
met ‘n getuienis?!
Geloofs-oorwinnaars praat ‘n ander taal,
as mense wat maar net weer orent kom,
na trauma en verlies.
Orentkommers kan bitter en negatief bly.
Geloofs-oorwinnaars is draers van hoop!
Orentkommers voorspel dikwels net nog ellende.
Geloofs-oorwinnaars weet, al sou dit gebeur,
sal hulle dit in die krag van God kan hanteer.
Lees maar net Psalm 69.
Kyk net wat het hierdie skrywer alles beleef.
Die swaarkry het eindeloos lank aangehou.
“Ek het my moeg geroep om hulp, my keel is hees geroep.”
Mense het hom sonder rede gehaat.
Mense wou hom stilmaak vir altyd.
Hy is vals beskuldig van diefstal, beledig en verkleineer.
Sy familie en huisgesin stel nie meer in hom belang nie.
Daar is nie in sy basiese behoeftes voorsien nie.
Hy beleef homself as ‘n hulpelose mens vol pyn.
Sou erger dinge en pyn ons ook kon tref?
Nou staan een enkele feit,
bo al hierdie feite in hierdie Psalm uit:
Hierdie mens hou aan om te bid!
Dit is juis wat óns nie dikwels doen nie.
Wanneer slegte dinge oor ons begin reën,
dan skarrel ons, huil tot ons oë ingee,
probeer ons dinge alleen beheer en manipuleer,
regbaklei, regbetaal, regsien, regdokter, regruk…
En uiteindelik oorleef ons nie só nie…
Net wanneer ons aanhou bid,
soos hierdie mens in Psalm 69,
sal ons as oorwinnaars anderkant uitkom.
Oorwinnaars met die getuienis van die wonderbaarlike hulp
en die trou van die lewende God!
Terwyl ons bid is ons alreeds in die oorwinning,
geloofs-oorwinning, want Hy aan wie ons vashou,
hou ons in die eerste plek vas!
En Hy is magtiger as enige iets of iemand waaroor ons bid.
Psalm 69:2:
“Red my, o God, want die water het tot by my keel gekom.”
Ernest