In die boek “Presence. Exploring Profound Change in People,
Organizations and Society”, is hierdie belangrike stelling:
“When all is said and done,
the only change that will make a difference is the
transformation of the human heart.”

Die vraag is: Hoekom is dit vir ons so moeilik om ruimhartig te leef,
en weg te gee, as ons in dieselfde asem getuig dat ons
ons harte vir die Here gegee het?
Is dit omdat ons sekuriteite in ons besittings is?
Die eindelose gejaag na besittings veranderd ons almal,
op een of ander manier in verbruikers,
in onvervulde soekers na nog meer tasbare dinge.
Iemand het gepraat van die gulsige “black hole” leefstyl.
Die woord “genoeg” kom net nie daarin voor nie.

Lynreg hierteenoor is die lewe van die Man van Nasaret.
Jesus se aardse lewe vertel ‘n heeltemal ander verhaal.
Hy leef nie met ‘n onversadigbare gulsigheid nie.
Status, mag en beheer is nie vir Hom belangrik nie.
Hoewel Hy op aarde reeds die Koning van alle konings is,
loop Hy nie in koningsgewaad nie,
en om Hom is nie edelmanne of invloedrykes vergader nie.
Sy reistas is leeg. Hy reis lig deur die lewe.
Die klere van slawe pas Hom die beste.
Filippense 2:6-7 vertel dit so:
“Hy wat in die gestalte van God was,
het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets
waaraan Hy Hom moes vasklem nie,
maar Hy het Homself verneder,
deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem,
en aan mense gelyk te word.”

Hy is meer as genoeg in jou lewe.
As jy Hom volg het jy altyd oorgenoeg om weg te gee!

Ernest