Die Here se merkteken vir goeie verhoudings,
is dié wat op liefde gebou is.
1 Korintiërs 14 stel dit duidelik:
dat die belangrikste gawes van die Heilige Gees,
juis daardie gawes is wat ons help
om in liefde ander se geloof op te bou.
Die doel van die gawes van die Gees,
is om ons te laat wegkyk van onsself.
Ons is deur die Here nuutgemaak,
en omskep om ander lief te hê,
en hulle geloof te versterk.
Om hulle lewens nog duideliker op God se pad te rig.
In elke verhouding moet ons daarna streef
om mekaar in liefde op te bou.
Goeie verhoudings begin wanneer ons die keuse maak
om oop en beskikbaar te wees vir ander,
omdat ons hulle as beelddraers van God raaksien.
In daardie opsig bou ons ook aan mekaar se geloof.

Dit is dus ‘n aktiewe en doelbewuste ingesteltheid.
Ons sien in mekaar bouwerke van die Almagtige,
wat ons almal na sy beeld geskep het.
Maar ons is ook almal onder lewenslange konstruksie.
Die Here bou deur ander ook aan ons,
en sy werk deur medegelowiges is nog lank nie klaar met ons nie.
Ons moet daar wees vir mekaar in hierdie opbou proses.
Ons gesindheid verander dan ook vanaf kritiese foutvinderigheid,
en hooghartigheid, na konstruktiewe betrokkenheid in liefde.
Ons kyk nie meer af op mense nie, maar kyk op na hulle....
Ons bemoedig, vertroos en vermaan dan mekaar,
met die liefde van die Here.

Ernest