Verhoudings, volgens God se wil,
is om mekaar in liefde op te bou.
Hiervoor rus die Heilige Gees ons toe,
en Hy doen dit met bepaalde gawes.
Hy rus elkeen uniek toe,
met sy persoonlikheid en gawes van die Gees.
So kan ons vrymoedig aan mekaar bou.
Maar, ons kan nie alle bouwerk in ander doen nie.
Net soos enige groot gebou nooit deur
net een persoon gebou word nie,
so kan ons ook nie alleen aan ‘n ander persoon
se lewe bou en alle verantwoordelikheid aanvaar nie.
Maar as ‘n span van gelowiges,
kan ons alles vir mekaar wees,
as liggaam van Christus, as gemeente van die Here.
Ons kan onmoontlik as indiwidu alles vir ander wees.
As ons dit probeer doen gaan ons uitbrand.
Baie geestelike leiers is uit op hulle voete,
omdat hulle alles vir almal probeer wees.
Dikwels ook as gevolg van verwagtinge.
Ook geestelike leiers moet dit besef,
dat hulle hoofsaaklik met hul gawes moet dien.
Hulle moet ander mense toerus,
wat dan die opbou funksie verder kan verrig.
Efesiërs 4:11-12 stel dit duidelik só as God se wil.
Maar dit geld alle gelowiges.
Ons het almal gawes ontvang,
en moet doelbewus daarmee opbou en dien.
Romeine 12:6-8 verduidelik dit baie mooi.
God het deur sy Gees gawes gegee,
en ons moet daarmee dien,
ooreenkomstig die gawes wat Hy aan ons gegee het.
Doen daardie stukkie bouwerk waarvoor die Here jou toegerus het.
Gee aan mense daardeur ‘n nuwe visie op God se koninkryk.
Gee aan mense ‘n beter uitsig op God.
Mense moet met groter vertroue in God van ons af wegstap.
Ons moet nuwe vensters van God se goedheid vir hulle oopmaak.
Bou aan elke mens met wie jy te doen kry.
Ernest