Matteus 25:29 sê hierdie belangrike woorde:
“Hy wat bereid is om te werk met wat hy het,
sal nog meer kry.
Wie egter agter allerhande verskonings wegkruip,
sal uiteindelik ook die bietjie verloor wat hulle het.
God het aan ons gawes en talente gegee om ons lewens sinvol te maak.
Jy voel dalk jou talente is nie besonders nie,
en jy wil dit begrawe soos die een man in Jesus se gelykenis.
Die Here wil egter hê ons moet dit waag met ons talente en gawes.
Daar was ‘n man wat gereeld in ‘n kroeg klavier gespeel het.
Hy was ‘n uitstekende pianis.
Mense het spesiaal na sy musiek kom luister.
Een aand het ‘n kroeg besoeker daarop aangedring dat hy ook moes sing.
Die pianis het gesê hy speel net klavier en sing glad nie.
Op groot aandrang van almal het hy wel begin sing, die eerste keer.
Niemand het nog voor dit die lied “Mona Lisa” gehoor,
soos dit daardie aand deur Nat King Cole gesing is nie.
Hy het ‘n talent gehad wat hy nie laat werk het nie.
Hy kon moontlik die res van sy lewe ‘n onbekende pianis gebly het!
Maar omdat hy “gedwing” was,
het hy een van Amerika se bekendstes geword.
Michelangelo, die beroemde beeldhouer het,
vry vertaal in Engels, gesê:
“It is only well with me when I have a chisel in my hand.”
Ontdek wat God bedoel het jy moet doen, en doen dit!
Waag met die Here se talente en gawes aan jou!
Ernest