Psalm 103:8 sê:
“Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde.”
God se liefde is so groot,
dat dit nie net met een woord beskryf kan word nie!
Barmhartigheid is een van die woorde
wat uitdrukking gee aan die aard van God se liefde.
Die stam waarvan die Hebreeuse woord afgelei word,
verwys na die baarmoeder van ‘n moeder.
In die baarmoeder word ‘n baba liefdevol versorg en beskerm.
Dit verwys nou na God se deernisvolle omgee liefde.
Die barmhartige God is die God wat van harte omgee.

God is so barmhartig teenoor ons!
Hoe het dit gebeur dat jy vandag ‘n Christen is?
Het jy in die regte huis grootgeword?
Het jy die regte vriende gehad?
In die regte kerk ‘n tuiste gevind?
Besef jy dat ook dit alles ‘n getuienis van God se barmhartigheid is?
Daar is niks toevallig aan jou lewe nie.
Ook en veral nie aan jou verlossing nie!
Efesiërs 2 beklemtoon dit in vers 4:
“Maar God is ryk in barmhartigheid, en het ons innig lief.”
Jou verlossing was al die pad ‘n daad van barmhartigheid,
wat uit God se liefdeshart kom!
God het in sy liefde en barmhartigheid sy hart vir jou oopgemaak.
Daarom is jy vandag sy kind!

Ernest