Romeine 8:15 is ‘n treffende teks oor ons verhouding met God:
“Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie,
en laat julle nie weer in vrees lewe nie;
nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak,
en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader.”
Hier deel Paulus die Gees se aanspreekvorm vir God,
wat hier diep uit ons harte weerklink!
Hy skryf dat God so naby aan ons is,
dat die Gees Hom nie elke keer op sy ánder name,
waarvolgens Hy wêreldwyd bekend is, aanspreek nie.
Vir die kinders van God bestaan daar nou ‘n spesiale liefdesterm,
waarmee die Gees in ons, Hom namens ons aanspreek.
En hierdie term is “Abba”.
Die Heilige Gees maak dit moontlik,
dat ons op ‘n baie intieme wyse met God self mag praat.
Die Gees roep oor en oor in ons harte uit dat God “Abba” is!
Dit vertel Paulus in Romeine en Galasiërs.
Presies so spreek Jesus ook vir God in Getsemane aan in Markus 14.
In Jesus se grootste krisis oomblikke is God só naby aan Hom.
Dan is Hy juis Abba!
Hierdie term, waarmee die Gees tot God bid, is ‘n Aramese woord,
waarmee kinders graag hulle pa’s aangespreek het.
Dit is ook die woord waarmee dissipels gereeld na hulle leermeesters,
en onderdane na hulle koning verwys het.
Abba druk tegelykertyd respek én intimiteit uit.
Dit is egter opmerklik dat mense dit foutiewelik vandag vertaal as “pappa”.
En dat mense selfs na God as “Dad” verwys.
Dat dit foutief blyk te wees, is veral uit die feit dat Paulus self
dit telkens vertaal met “Vader”, en nooit met die bestaande
Griekse woord “pappa” nie.
Abba sou ook vertaal kon word met die woorde “liefdevolle Vader”.
Hierdie woord druk in dieselfde asem ons heilige respek vir God,
asook ons bewussyn uit, dat Hy, as liefdevolle Vader, baie naby aan ons is.
Respek en intimiteit!
Dit help ons om reg te dink, en te praat, oor en met God.
Die Here is ons Vader-God.
Hy is die enigste Een wat alle mag in die heelal het.
Maar Hy is ook die Een wat Hom telkens oor ons ontferm,
en al die hare op ons koppe tel...
Ernest