Lof ontplof oor alle grense

Lof word nie beperk tot eredienste of aanbidding geleenthede,
of aanbidding ruimtes nie. Lof stop nie in die kerk nie.
Dit loop saam met jou, in jou hart, by die kerk uit!
In 1 Konings 8:27 roep Salomo dit al in sy gebed uit!
“Sou God werklik op die aarde woon?
Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie,
hoe dan nog hierdie tempel wat ek gebou het!”

Mense is nou lewende lofoffers van God, daar waar hulle leef!
Ons lewens word voltydse lofsange aan God.
Nie net liedere in die kerk nie, maar ons hele lewe!
Ons lewens word, deur die Heilige Gees, voltydse lofsange,
wat oral vertel en getuig van sy goedheid!
Ons kan nie net wag vir Sondae, vir lof aan God nie!
As nuwe mense, as beelddraers van God,
as sy verteenwoordigers op aarde, word lof aan God ons passie.
Van waar die son opkom, tot waar dit ondergaan.

Lof is verseker ook musiek en sang.
Geen twyfel daaroor nie, en wat ‘n fees!
Paulus en Silas sit in Filippi in die tronk,
in die haglikste omstandighede denkbaar, en wát doen hulle?
Handelinge 16 vertel hoe hulle tot eer van God lofliedere sing!
Met stukkende liggame, en in haglike omstandighede,
weerklink hulle lofliedere vir almal wat daar is om dit te hoor.
Maar bo alles en almal hóór God dit!
Wat ‘n getuienis en lewe in oorwinning!
Wat hulle eie omstandighede betref kan ons dink:
Wat het hulle om God oor te loof?
En tog, hulle het alle rede, want Hy is God,
en steeds God, op sy troon, van waar Hy genade betoon.
Lof is ‘n leefwyse ten spyte van jou omstandighede,
en nie as gevolg van jou omstandighede nie.
Jou vasbyt op God se pad is lof.
Lof is sang, maar ook om daagliks vir God te leef.

Ernest