Dankbaarheid vrees nie

Matteus 25 se gelykenis oor die muntstukke sê in vers 25:
“Omdat ek bang was, het ek u muntstuk in die grond gaan begrawe”

Die derde slaaf in die gelykenis het net een goue muntstuk ontvang.
Maar hy gaan begrawe dit omdat hy bang is....hy waag nie.
Wat was sy probleem?
Sy angs en vrees maak hom lam.
Hy is bang vir die dag as die kontrole kom en daar gemeet word.
Wanneer jy dink dat God werk soos iemand wat net wil kontroleer,
wat jou heeltyd dophou om te sien hoe jy presteer,
dan sal dit jou inderdaad verlam van vrees.
Wanneer jy dink die Here is daarop uit
om jou te straf vir swak prestasie,
sal jy gaan begrawe wat Hy gee.

God is nie daarop ingestel om te sien hoe jy presteer nie.
Hy is nie soos ‘n boekhouer of ouditeur wat jou boeke nagaan nie.
Een kommentaar skryf:
“The only bookkeeper in the story was the servant,
who had a fear for a non-existent audit,
and therefore hid his talent in the ground.”
God vergewe en vergeet.
Jesaja 43:25 sê:
“En tog is dit Ek wat jou opstandigheid vergewe.
Ek is getrou aan Myself, Ek dink nie meer aan jou sondes nie.”

Hierdie vrees dat God op kontrole ingestel is, laat ons “veilig speel”.
En die neiging om veilig te speel kom by ons almal voor.
Ons is gedurig, selfs onbewustelik, in die versoeking,
om nie onsself volledig te gee nie.
Ons is bang ons slaag nie...in wat ookal,
in die verwagtings van die Here.
Ons is daarom nie voluit Christen vir 24/7 nie.

Onthou: jy kan nie ‘n omelet maak as jy nie die eiers breek nie...waag!
Jy mis 100% van die skote wat jy nie na die doelhok skiet nie....waag!
God is nie op kontrole ingestel vir wat jy mis nie,
maar gee jou gawes om te lééf!
Moenie bang wees, en jou lewe gaan begrawe nie!

Ernest