Die slaaf wat sy muntstuk gaan begrawe het,
het geweier om risiko’s te loop.
Matteus 25:18:
“Maar die slaaf wat een gekry het,
het ‘n gat in die grond gaan grawe,
en sy eienaar se geld daarin gaan wegsteek.”

Dit is ‘n baie groot gevaar van die lewe.
‘n Persoon wat geen risiko’s neem ter wille van
die koninkryk van God nie, doen niks, het niks en is niks.
Dit is verseker nie hoe God wil hê ons moet lewe nie.
As dit die geval was, sou die Evangelie nou nog
net in Jerusalem gewees het.
‘n Skilpad beweeg net as hy sy nek uitsteek,
en al beweeg hy stadig, hy beweeg!
As jy nie jou nek uitsteek vir die koninkryk van God nie,
gebeur daar, wat jóú betref, net mooi niks. Jy begrawe wat God gee!

Mense wat hulle nekke uitgesteek het, het dinge laat gebeur.
Die bekende Broer Andrew het na die destydse Joego-Slawië gereis,
waar die Evangelie verbied was.
Sy motor was gepak met Bybels en traktaatjies.
Hy het dit nie eers versteek nie.
Toe hy die grenspos nader het hy gebid:
“Here Jesus, toe U op aarde was, het U blinde oë laat sien.
Nou bid ek U om siende oë blind te maak.”
Die grens polisie het sy motor deurgekyk en hom deurgelaat!
Vir sewe weke het hy in Joego-Slawië die Evangelie versprei.
Dit was die begin van Geopende Deure,
die organisasie wat tot vandag toe nog dinge
vir die koninkryk van God waag!

Moenie bang wees om, onder leiding van die Heilige Gees,
die risiko’s te loop waarin Hy jou lei,
ter wille van die koninkryk van God nie!

Ernest