“Toe sê die eienaar vir hom: “Jy is ‘n slegte en lui slaaf.”
Matteus 25:26 praat oor die slaaf wat sy muntstuk gaan begrawe het.
Omdat hierdie slaaf bang was vir mislukking en kontrole van sy eienaar,
het hy niks met die muntstuk gedoen nie, niks!
Die betekenis daarvan is om aan God “‘n on-geleefde lewe terug te gee”.
Die fliek, “Babette’s Feast”, het wonderlike lewenslesse hieroor.
Dit gaan oor Babette wat dit waag om iets wonderliks te doen.
Sy is in die negentiende eeu die huishoudster van
twee bejaarde susters in ‘n klein Deense dorpie.
Albei die susters behoort aan ‘n baie streng Christelike gemeente.
Dit is deur hulle pa begin, en feesvier is verseker nie deel van hul tradisie nie!
Nou die interessante:
Babette was vroeër die sjef van ‘n spog restaurant in Parys!
Sy dra ook altyd ‘n kruis om haar nek,
as simbool dat sy Jesus toegewy volg en haar alles vir Hom gee.
Intussen kry Babette ‘n brief van Parys dat sy die lotery gewen het!
Dit is ‘n volle 10 000 Frank. Sy is eenvoudig nou skatryk.
Die susters neem dadelik aan dat sy hulle gaan verlaat.
Babette besluit egter om eerder ‘n groot Franse fees ete uit haar sak te reël.
Sy doen dit ter ere van die susters se oorlede pa,
wat die stigter is van die Christen gemeente vir wie se mense sy so lief is.
Sy moet al die bestanddele vir die disse invoer uit Parys.
Dit is ‘n wonderlike ete, en die twaalf genooide gaste geniet hulle gate uit!
Die dag na die ete verwag hulle almal om nou vir Babette te groet.
Sy het mos nou geld. Waarvoor sal sy bly?
“Nee”, sê Babette. “Ek bly, ek het niks geld oor nie.”
Die susters is hoogs geskok. “Uit hulle geloof”...geskok.
Babette verduidelik aan hulle:
“Die koste in Parys, vir ‘n ete soos gisteraand, is 10 000 Frank.”
Sy het gewaag om alles te gee vir die lewe en nie vir die geld...
Simbolies is die kruis om haar nek:
Sy het haar alles gegee, en nou ook steeds haarself, vir hierdie mense.
Presies soos die Man op wie die kruis om haar nek dui!
Ernest