Hierdie risiko’s gaan nie oor onverantwoordelikheid,
en/of swak beplanning nie.
Dit gaan ook nie oor dobbel- risiko’s nie.
Dit gaan daaroor om grense vir die Here oor te steek.
Dit gaan oor waag vir die koninkryk van God.
Christene word nie geroep tot ‘n “speel veilig” lewe nie.
Ons word geroep tot ‘n “neem risiko’s” lewe,
‘n lewe wat in geloof waag vir die Here,
‘n lewe wat grense oorsteek ter wille van sy koninkryk.
Veral grense na mense!

Veral grense na mense....Daarom sê Matteus 25:40:
“Dit verseker Ek julle:
Vir sover julle dit aan een van die geringstes van
hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.”
Op die dag wat die Here kom,
gaan Hy vra watter verskil jou lewe op aarde
ter wille van Hóm gemaak het.
Het jy voluit geleef, of jou Godgegewe lewe gemors?
Het jy die léwe in oorvloed geniet?
Het jy jou medemens met liefde gedien?
Was jy daar waar God jou wou hê?

Ons moet hierdie vrae reeds vandag vra,
en dit dan voluit gaan uitleef!
Die beste yshokkie speler van alle tye, Wayne Gretzky, het gesê:
“Most people skate to where the puck is,
I skate to where the puck is going to be!”
Wanneer jy skaats na waar die skyf is,
is dit weg teen die tyd wat jy daar aankom.
Dit is dan reeds aangegee na die volgende speler!
Skaats na waar die skyf heen op pad is,
dan maak jy ‘n verskil in die wedstryd!
Dan “lees” jy die wedstryd en maak impak!
Moenie wag dat die “game” na jou toe kom nie.
Ons moet ook so lewe.
Gaan haal die lewe!
Antisipeer waar dit is waar God jou wil hê, en beweeg,
met waagmoed en spoed.
Moenie wag dat die lewe na jou toe kom nie....

Kyk waar God beweeg en beweeg saam met Hom!
God is daar waar mense geraak moet word.
Hy is daar waar ‘n verskil in mense se lewens gemaak moet word.
Wanneer ons dáár is, en dit selfs aan die geringstes doen,
doen ons dit aan en vir die Here!

Ernest