Iemand het gesê ons lewe moet verander,
van “Please, God”, na “Please God!”
In “please, God” gaan dit om jouself.
Alles draai om jou. Dit is waarvoor jy bid.
Jou belange.
In “please God!” draai alles om Hom.
Jy leef om Hom te behaag. Dit gee die lewe sin.
In Psalm 19:10-15 bid die skrywer om God te behaag:
“Here, U bepalings is reg, elkeen van hulle is regverdig.
Hulle is kosbaarder as goud, soeter as heuning,
as druppels uit ‘n heuningkoek.
Ek, U dienaar, laat my daardeur leer.
Here, weerhou my van opsetlike sondes,
laat hulle nie oor my heers nie.
Mag wat ek sê en wat ek dink,
tog vir U aanneemlik wees, Here,
my Rots en my Verlosser.”
Maak ‘n verskil met jou lewe en in jou lewe.
Doodsberigte dui gewoonlik die persoon se lewensduur aan.
Gebore 1990 en gesterwe 2060.
Op ‘n grafsteen staan daar kortliks 1990 – 2060.
Maar die belangrikste is die strepie tussen die twee datums.
Jou lewe! Dit wat in jou lewe gebeur het.
Maak jou lewens-streep ‘n onvergeetlike een!
Kies om:
Lief te hê eerder as om te haat.
Te glimlag eerder as om te frons.
Te bou eerder as om af te breek.
Vas te byt eerder as om op te gee.
Te prys en te waardeer eerder as om te skinder.
Te genees eerder as om te wond.
Te gee eerder as om te gryp of te ontvang.
Te doen eerder as om uit te stel.
Te vergewe eerder as om te verwyt of kwaad te bly.
Te bid eerder as om moed en hoop op te gee.
Die goeie in ander te soek eerder as om die slegte raak te sien.
So kies jy om God te behaag en vir Hom ‘n verskil te maak!
Ernest