Mense, en veral mense wat dink hulle weet baie,
kan dikwels baie min simpatie met ander hê.
Dit laat ons dink aan die twee dosente en hulle studente,
wat aan weerskante dink hulle weet baie,
en min vir mekaar oor het....

In die eerste geval sê die student:
“Professor, ek wil regtig by u kla.
Ek dink nie ek verdien ‘n nul vir my werkstuk nie.”
Waarop die professor antwoord:
“Ek ook nie, maar dit is die laagste punt wat ek jou kon gee.”

In die tweede geval sien ‘n student op sy vraestel
net die pote van voëls wat hy moet uitken.
“Professor, dit is onbillik, om van ons te verwag om voëls
net op grond van hul pote uit te ken.”
Waarop die prof antwoord:
“Meneer, jy ken nie jou werk nie, wie is jy?”
Waarop die student sy kaalvoet op die prof se tafel sit en sê:
“Aangesien u alles van pote weet sal u my seker hieraan kan uitken.”
Mense wat min vir mekaar oor het....

Die Here is so totaal anders!
Al sukkel ons, help Hy ons steeds om ons beste self te word.
Al weet God alles, tree hy so totaal anders op.
Hy is nie daarop uit om die lewe moeilik te maak, of ons uit te vang nie.
Hy weet dat ons nie alles weet nie, en dikwels droogmaak.

Psalm 103:14 stel dit treffend:
“Die Here weet hoe swak en vol foute ons is.
Hy weet dat ons maar klein en swak mensies is.”

Ernest