Dikwels dink mense dat ons lééf vir die Here,
maar dat ons sterwe ‘n einde maak aan ons lewe vir die Here.
Mense sal ook sê dat iemand “ontydig” gesterf het,
of “onnodig” gesterf het, of “te jonk” gesterf het.
Hulle is dan meer besorgd of sterfdatums binne die Here se wil is,
as wat hulle is oor of ons daaglikse lewe binne sy wil is.
Ons leef tog in verhouding met God,
en daardie verhouding gaan voort na die aardse dood.
Dan moet ons Romeine 14:8 se woorde ernstig opneem:
“As ons lewe, leef ons tot eer van die Here;
en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here.
Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.”
Die Boodskap sê dit só:
“...voluit vir God leef en doodgaan.”

Doodgaan is nie die einde nie! Ons weet dit tog.
En tog maak ons opmerkings en vra vrae asof dit die einde is.
Die verhouding met God bestaan vir ewig, én wén ewig!
Paulus vra nooit of ons doodgaan oomblikke binne of buite God se wil is nie.
Vele gelowiges wat hy ken, het self gesterf,
waar ánder mense buite God se wil opgetree het!
Mense soos Stefanus, Jakobus, ....en later ook hy sélf!
Hulle is vermoor ter wille van hulle geloof in God.
En moord is tog lynreg teen God se wil.
Nogtans vra Paulus nooit vrae daaroor nie,
want die vraag is nie vir hom hóékom God dit toelaat nie,
maar of God se verhoudings-wil deur die graf heen in stand bly,
en hierop is die antwoord natuurlik ‘n duidelike: Já!

Die feit dat ander mense buite God se wil optree,
en mense van God leed aandoen,
beteken nie ons val nou skielik deur God se hande nie!
Ons is nie uitgelewer aan die noodlot nie.
God skep ons om ‘n vol lewe tot sy eer te leef.
En dit sluit in ons verhouding met Hom in,
dat ons ook tot sy eer sal sterf.
Dit is deel van die lewe vir Hom.

Ernest