Ons lewe gebeur tans aan die duskant van die graf.
En hierdie kant van die graf is slegte dinge
ook aan die orde van die dag.
Moorde, siekte, ongelukke...
Waar is God in hierdie proses?...is die vraag op baie se lippe.
Hoekom laat Hy dit toe? Het Hy ons vergeet?
Hierdie is nie die beste vrae om te vra nie.
Nie alle vrae is goeie of regte vrae nie.
Romeine 14:9 sê duidelik;
“Hiervoor het Christus ook gesterf en weer lewend geword:
om Here te wees van die dooies en die lewendes”.
Hy is Here aan beide kante van die graf!
Die regte vraag is eerder of mense wat sulke dinge oorkom,
en wat in ‘n opregte geloofs-verhouding met die Here is,
dan op hul eie is?
Nee. Natuurlik nie. En dit is ons enigste troos. Net dit!
Ons moenie vasval in allerlei teoretiese antwoorde,
en verklarings vir slegte dinge nie. Ons weet eenvoudig nie.
Hoekom ry ‘n “kind van die Here” pa
per ongeluk sy eie kind in die oprit dood?
Is dit regtig die Here se wil?
Al wat ons ooit kan weet, of waarvan ons seker kan wees,
is God se absolute liefde vir ons onder alle omstandighede.
Niks of niemand kan ons van God se liefde skei nie! Romeine 8.
Ons verhouding met God moet ons dra.
Nie dat Hy elke slag ingryp presies soos ons dit verwag in ons krisisse nie.
Verseker gryp die Here in. Maar uit genade en soos Hý wil.
Moet ons dan ophou bid vir sy ingrype in krisisse?
Nee. Ons moet God juis aanroep in die dag van benoudheid.
Hy is ons Vader wat ons liefhet en Hy weet wat ons nodig het.
Maar ons moet in dit alles weet:
Soms klink ‘n hemelse “ja” hier aan ons kant vir ons soos ‘n “nee”.
Juis dan moet ons aan Hom vashou in geloof!
Ernest