Jeremia 23:24 sê:
“Niemand kan in ‘n geheime plek wegkruip
sonder dat Ek hom sien nie, sê die Here.
Ek is oral in die hemel en op die aarde, sê die Here.”

In die boek “The Firm” is die firma waarvoor
Mitch McDeere werk oral op sy spoor.
Om elke hoek en draai is hulle.
Hulle wil beheer oor sy lewe hê,
ter wille van hul eie duister aktiwiteite.
Maar daar is tog tye wanneer hy daarin slaag
om hulle te ontglip en hulle op ‘n dwaalspoor te bring.

Met die alomteenwoordigheid van die Here is dit totaal anders.
In die eerste plek is dit totaal onmoontlik om God te “ontglip”,
of om op ‘n plek te wees waar Hy nie is nie. Hy is eenvoudig oral!

Die skrywer van Psalm 139 sê hieroor in mooi terme in verse 7-12:
“Waarheen sou ek gaan om U Gees te ontvlug?
Waarheen sou ek vlug om aan U teenwoordigheid te ontkom?
Klim ek op na die hemel, is U daar.
Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste,
ook daar lei U hand my, hou U regterhand my vas.
Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek,
of die lig rondom my om in nag te verander,
maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie,
en die nag so lig soos dag, duisternis so goed soos lig.”

Maar let op vers 10 wat so treffend sê wáárom en hoé God
oral teenwoordig is in terme van ‘n kind van die Here:
“....ook daar lei U hand my, hou U regterhand my vas.”
Hierdie alomteenwoordigheid van die Here is nie bindend nie,
maar absoluut bevrydend!
Ons mag soms ver van God af voel,
maar God is nooit ver van ons af nie.
Hy is by elkeen van sy kinders.
Hy is op ‘n besondere manier teenwoordig by hulle wat Hom soek,
en nog meer spesiaal by mense wat Hom nie meer kan vind nie...

Jeremia 23:24 én Psalm 139 beklemtoon
dat God se alomteenwoordigheid gerusstel, en nie ontstel nie.
Waar ek ook al gaan, die Here sal daar wees.
God sal my nooit ooit alleen laat, of in die steek laat nie...!

Ernest