Psalm 105:4 sê:
“Soek hulp en beskerming by die Here,
soek gedurig sy teenwoordigheid.”

Eeue terug het ‘n gelowige met die naam van Broer Lawrence
‘n boek geskryf met die titel “Practising the Presence of God.”
Hy was vir vyftien jaar verantwoordelik om die
potte en die panne in die klooster te was.
Hy het glad nie van die werk gehou nie. Wie sou daarvan hou?
Hy het doelbewus besluit om sy werk te begin gebruik
om God se teenwoordigheid in alles te ervaar.
Hoe kan ‘n mens God se teenwoordigheid met so ‘n werk ervaar?

Daar is sekere dinge wat jy elke oomblik van jou lewe moet besef,
dan sal jy God se teenwoordigheid in alles ervaar:

God word nie beperk tot wat ons dink sinvol is, of nie sinvol is nie.
In die daaglikse sleurwerk is ons steeds besig in sy koninkryk,
en doen ons alles van harte soos vir die Here, en nie vir mense nie
– Kolossense 3:23

God word ook nie beperk tot ‘n gebou nie.
Hy is waar sy kinders is, al is dit in die kombuis.

God word ook nie vasgepen deur ‘n stad of ‘n volk nie.
Enige iemand kan enige plek uitroep:
“Die Here is in hierdie plek”.
In Genesis 28:16 roep Jakob uit:
“Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie.”
Waar jy ook al is, God is daar. Die heelal is sy plek.

God is ook teenwoordig, of mense dit wil glo of nie.
Joeri Gagarin, die eerste man wat in ‘n ruimtetuig
om die aarde gewentel het, het met sy terugkeer gesê:
“Ek het orals gesoek maar God nêrens gesien nie.”
Iemand sê toe:
“If he had taken off his space suit for just one second,
he would have seen God pretty quickly.”

God is 24/7 teenwoordig,
waar jy ook al gaan en wat jy ook al doen.
Ons leef letterlik in God se teenwoordigheid.
Ons moet meer bewus wees daarvan!
Ons leef nie voor wat “mense dink” nie,
maar wat God sien en weet.
Na aanleiding van bogenoemde boek:
“Practise the presence of God!”

Ernest