Romeine 15:1-2 sê dat ons mense moet gaan vertel
van God se genade wat genoeg is, en sy medelye met ons.
“Op ons wat sterk is in die geloof,
rus die verpligting om die swakhede te verdra van dié
wat nie sterk is nie. Ons moenie aan onsself dink nie:
elkeen van ons moet aan ons naaste dink,
en aan wat vir hom goed is en wat hom in die geloof kan opbou.

Daar is ‘n verskil tussen swakhede en sonde.
Jesus haat en veroordeel sonde in sy reaksie daarop.
Maar Hy het medelye met elkeen van ons se swakhede.
Hy eis dat ons met die sonde moet breek.
En tog laat Hy sommige gelowiges lewenslank
met hul swakhede saamleef, soos Paulus byvoorbeeld.
Dan verseker Hy, soos vir Paulus,
sulke gelowiges dat sy genade vir hulle genoeg is.

Hoe kry mense met knellende swakhede hierdie boodskap,
dat God se genade vir hulle genoeg is?
Wie bring aan hulle die tyding dat hulle nie daarmee
onder God se oordeel staan nie?
Dat God hulle juis daarmee gaan dra!
Ons! Ons almal as gelowiges moet hierdie tyding dra.
En die van ons wat sterker is in die geloof,
op ons rus die verpligting,
om die swakhede te verdra van die wat nie sterk is nie.
Ons teks sê juis in hierdie opsig moet ons nie aan onsself dink nie;
Elkeen van ons moet aan ons naaste dink,
en aan wat vir hom goed is en wat hom in die geloof kan opbou.
Ons moet die boodskap van God se genade wat genoeg is,
en God se deurlopende bystand, na mense toe dra.

Ons word met hierdie boodskap na medegelowiges gestuur,
wat met emosionele of ander swakhede worstel:
God se genade is vir ons genoeg.
Elkeen, met swakhede en al, is vir God oneindig kosbaar.
Die Heilige Gees woon en werk in elke gelowige.
God wil elke mens, met ons swakhede en al, in sy koninkryk gebruik.
God wil aan elkeen ‘n betekenisvolle en vrugbare lewe gee.
Elkeen van ons beteken vir ander mense baie, as ons op God fokus.
Ons elkeen is ‘n bietjie soos Paulus, en soos met hom,
wil God net soveel van sy krag en genade aan elkeen van ons gee!

Ernest