Christenwees het te doen met radikale veranderinge.
2 Korintiërs gebruik ‘n paar beelde om dit te beskryf.
Ons is spieëls, kleipotte, en mense met lig in ons harte.
2 Kor. 4:6-7 sê:
“God wat gesê het: “Laat daar lig skyn uit die duisternis,”
het ook in ons harte ‘n lig laat skyn.
Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek;
die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.”

Uit Paulus se briewe is dit duidelik,
dat ons met bekering ‘n omkeer belewe,
maar dat die proses van verandering voortduur.
Om Christusgelykvormig te word is ‘n groeiproses,
deur voortgesette omgang met die Woord,
daaglikse gehoorsaamheid aan die Heilige Gees,
gebedsgemeenskap met God,
saamleef met medegelowiges,
beproewinge en groei daardeur,
en die suiwering van ons geloof.

Heiligmaking gebeur met kleipotmense,
wat die Woord van God so ernstig opneem,
dat hulle eenvoudig leef wat daarin staan.
Kleipotmense het blydskap in hulle lewe.
Hulle verdiep hulle in die kennis van die heerlikheid van God.
Hulle verander deurlopend,
omdat hulle Jesus al beter deur die Woord leer ken.
Die krag wat alles oortref kom woon in ons.
Dit kom van God. Nie van ons nie.
God laat in ons harte ‘n lig skyn!

Gaan leef en verander radikaal.
God se skat is in jou!

Ernest