2 Korintiërs 6:14 is nogal ‘n moeilike teks,
om reg te verstaan en uit te leef:
“Moenie met ongelowiges in dieselfde juk trek nie.
Hoe kan daar vennootskap wees tussen reg en onreg?
Hoe kan daar gemeenskap wees tussen lig en duisternis?”
In hierdie gedeelte vermaan Paulus die gemeente,
om te gaan leef soos God wil hê dat hulle moet leef.
As hulle seker gemaak het dat hulle in
‘n lewende verhouding met die Here leef,
dan moet hulle breek met ‘n verkeerde leefstyl,
om voortaan heilig te lewe.

Die verskille tussen gelowiges en ongelowiges
moet duidelik raakgesien word.
Gelowiges en ongelowiges leef nie dieselfde soort lewe nie.
Net soos ‘n os en ‘n donkie nie voor dieselfde ploeg
ingespan kan word nie, volgens Deuteronomium 22:10,
net so kan gelowige en ongelowige
ook nie in dieselfde juk trek nie.
Die wêreldlinge en die kinders van God
lei nie dieselfde soort lewe nie.
Diegene wat in die regte verhouding met God gebring is,
deur Christus se versoening aan die kruis,
kan nie vermeng met die wetteloses wat
nié God se verlossing aanvaar het nie.
Die lig kan nie in ‘n innige verhouding met die duisternis lewe nie.

Maar wat van ons roeping om suurdeeg, sout en lig te wees?
Daar is ‘n groot verskil tussen geestelike hoogmoed,
en geestelike afstand.
Jesus het nie mense veroordeel nie.
Jesus het nooit geweier om kontak met sondaars te maak nie,
inteendeel, hulle was vir Hom uiters kosbaar!
Alle mense moet God se skepsels vir ons wees,
soos ons, geskep na die beeld van God.
Mense vir wie die Seun van God ook gesterf het.
Tog het Jesus geestelike afstand gehandhaaf,
met byvoorbeeld die Fariseërs.
Hy het nooit soos hulle geword om hulle guns te wen nie.
Hy het geen kompromieë met hulle aangegaan nie.

Vandag volg ons Jesus steeds na in ons leef-konteks.
Ons is goedgesind teenoor alle mense en moet hulle liefhê,
maar ons handhaaf ook afstand.
Ons moet nie ons geestelike standaarde verlaag,
om ongelowiges se guns te wen nie.
Ons moet nie ons toewyding aan God laat beïnvloed,
of ons lojaliteit aan God se koninkryk laat verdeel nie.
In vandag se lewe het sukses so baie te doen met
netwerke en kontakte, skakeling en samewerking.
Tog beteken Christen-wees dat elkeen ons na gees en liggaam
sal reinig van alles wat verontreinig – 2 Kor. 7:1.
Ons onttrek nie uit die harde werklikheid nie,
maar trek ook nie in geloofs-oortuiging in dieselfde juk nie.
Selfs nie terwille van vooruitgang, óf selfs oorlewing nie!

Ons leef by elke kruispad in die versekering van Matteus 6:33:
“Beywer julle allereers vir die koninkryk van God,
en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.”

Ernest