“Dit is ‘n betroubare woord,
en kan sonder voorbehoud aanvaar word:
Christus Jesus het in die wêreld gekom,
om sondaars te verlos.” – 1 Tim. 1:15.
In 1 Tim. 1:15-17 vind ons die kernboodskap van die Bybel:
God wil sondaars red en aan hulle die ewige lewe gee;
Dit is God se reddingsplan vir die mensdom.
In die middel daarvan, staan onontwykbaar,
Jesus Christus as Here.
Hy is ons enigste hoop in lewe en dood.
Die heel beste lewensdoel op aarde,
is om met my hele lewe te getuig van Jesus Christus.
God is vir ewig Koning, die onsienlike en enigste God.
Hy verdien ons hele lewe, eer en lof!
Ons sou, vry gepraat, bogenoemde teks dalk só kon sê:
“Wat volg, is 100% waar!
Niemand hoef die minste twyfel hieroor te hê nie.
Jesus Christus het reeds na die wêreld toe gekom.
Sy doel was om sondaars uit die mag van
die Satan en die dood te verlos.
Ek, Paulus, het geweldig baie bagasie
uit die verlede met my saamgedra.
As God mý, van alle mense,
die grootste van alle sondaars,
in genade as sy kind aanvaar het,
kan Hy enigiemand red.
God se genade is vir elke sondaar bedoel.
Hy skenk sy genade aan elke sondaar,
wat in Jesus Christus as Verlosser glo.
Wie in die Seun glo, sal vir ewig leef!
Daar is niemand soos God nie.
Hy is die Koning van die eeue. Vir ewig en ewig.
Ons kan Hom nie sien nie,
maar Hy leef van ewigheid tot ewigheid.
Hy alleen is God!
Hy verdien al die eer, al die verheerliking,
en al die aanbidding tot in alle ewigheid.
Hierdie eer wil ek, saam met al sy kinders,
vir Hom alleen gee!”
Glo dit sonder voorbehoud!
Leef hierdie lewe en boodskap elke dag uit!
Ernest