1 Johannes 4:8 sê: “Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde.”
Vers 9 sê dan wat die treffende gevolg is, van die feit dat God liefde is: “Hierin is God se liefde vir ons geopenbaar: Sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur, sodat ons deur Hom die lewe kan hê.” Vers 10 beklemtoon dan dat juis dit werklike liefde is: “Werklike liefde is dit: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het, deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.”
Liefde wat God bewys het! Persoonlik! God kon sy dienaars uit die hemel stuur om dit te doen. Hy kon legioene van engele stuur om die Bose weg te vee. Maar God doen dit nie. Hy kom Self! Sy Vaderhart vol liefde laat Hom so optree.
Om dit te weet is vir die mens alles genoegsaam. Ons moet dit onophoudelik in ons hart dra, en dit blymoedig getuig met ons lewe. In hierdie drie woorde, lê die geheim van die sin van die lewe: God is liefde! In hierdie waarheid, is die verlossing van die wêreld opgesluit. Hierdie waarheid bevat die vreugde van ons totale bestaan. Dit sluit ons toekoms oop. Dit verwoord die hele boodskap van die Bybel. Daarom aanbid ons. Want: God is liefde!
God is nie toorn nie. Die vuur wat in God se hart brand, is liefde, en nie toorn nie. Natuurlik is die sonde ‘n versteuring, van God se bedoeling met ons en die skepping. Maar God laat Hom nie van stryk bring nie. God se liefde brand te sterk. Want God is God, en nie ‘n mens nie.
Hieraan moet ons met geloof vashou, dat God liefde is. Juis wanneer ons vra: Is God liefde? Juis wanneer ons die woordvolgorde wil omruil na : Is God liefde? Juis dan moet ons met geloof vashou aan hierdie Woord van God: God is liefde! God se liefde oorwin alles. Die waarheid en die werklikheid daarvan is geopenbaar, in Jesus Christus die Here. In Hom kom God self na die wêreld. Om ons te red en te herskep tot sy kinders.
Ernest