1 Korintiërs 13, oor die liefde, is ‘n baie bekende, en een van die mees gelese gedeeltes in die Bybel. ‘n Belangrike vers waaroor ons egter dikwels lees, is 1 Kor. 13:8 se eerste gedeelte: “Die liefde vergaan nooit nie...” Dit is treffend dat ons lewens so verganklik is, maar dat die liefde nooit vergaan nie. Dit is juis waarom Paulus reeds in vers 1 sê: “Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is...” Psalm 103:15-17 het al beklemtoon hoe verganklik die mens is, en hoe onverganklik die liefde van God is: “Die mens, sy lewensduur, is soos die van gras, soos die van ‘n veldblom wat oopgaan: as die woestynwind daaroor waai, is dit weg en sy plek vir altyd leeg. Maar onverganklik is die liefde van die Here...”
Wat sal vir altyd bly bestaan, as alles reeds vergaan het? Die liefde! 1 Korintiërs 13 is ‘n lewens noodsaaklike perspektief op die lewe. Uiteindelik bly net die liefde, en dit wat op die liefde gebou is. Van al die gawes wat God gee, is die liefde die belangrikste. Vers 13 beklemtoon dit treffend: “En nou: Geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde.” Die liefde is selfs groter as die geloof en hoop wat God gee. Geloof sal oorgaan in aanskoue. Hoop sal eendag die vervulling van al God se beloftes smaak. Maar die liefde verander nie.
Die liefde is ewig. Soos God. Want God is liefde! 1 Joh. 4:8. Die inspanning van die geloof, en die uitgestrektheid van die hoop, sal uiteindelik opgeneem word in die blydskap van die liefde. Ons moet alles wat ons doen, in liefde doen, en op liefde bou. Dit is absoluut die allerbeste, sê vers 1, waarmee ons ons lewens vul, en daaraan sin gee. Die liefde is wesentlik, oortref alles, en skakel die huidige werklikheid van ons lewe met die toekoms.
Die liefde is vir die harde werklikheid van elke dag. Dit is nie net ‘n mooi teorie nie. Al doen jy watter indrukwekkende dinge ook al, as dit nie in liefde is nie, beteken dit niks. Met die liefde van 1 Kor. 13 word bedoel die liefde wat van God af kom. Die liefde uit God, deur God, tot God. Ons ontvang dit van God, en leef dit onder leiding van die Heilige Gees terug aan God, en vir Hom, aan ons medemens. Hierdie liefde is ons enigste nalatenskap! “Die liefde vergaan nooit nie...”
Ernest