Matteus 26 vertel dat Jesus, terwyl hulle so gesit en eet het,
‘n belangrike ding gesê het: “Ek het ‘n belangrike ding om vir julle te sê:
Een van julle wat hier sit, gaan my in die rug steek.”
Vers 25: “Judas, die een wat al klaar besluit het om teen Jesus te draai,
vra toe ook so ewe: “Dit is tog sekerlik nie ek nie, nè, Rabbi?” Vers 26:
“Net so!” antwoord Jesus hom.”
Wat ‘n verskriklike en ironiese oomblik…

Tog gebeur daar ook soveel genade en liefde aan hierdie tafel.
Vers 26-28: “Terwyl die ete aan die gang was, vat Jesus ‘n stuk brood.
Nadat Hy vir God dankie gesê het vir die brood,
breek Hy dit in stukke en gee dit vir sy dissipels.
“Vat dit en eet dit”, sê Hy. “Dit is my liggaam.”
Toe vat Hy die beker met die wyn.
“Drink dit, almal van julle. Dit is my bloed wat gaan vloei.”

Vandag nog doen ons dit! Ons vier nagmaal!
Ons vier die dood van Jesus totdat Hy kom.
Ons verlossing en ons redding daardeur!
Ons sit saam met die Here aan tafel!

Met hierdie ete onthou ons, elke keer wanneer ons nagmaal vier,
wat die Here vir ons gedoen het en steeds doen.
Ons weet ook dit is sy waarborg aan ons dat Hy sy beloftes hou.
Ons vier dit saam met medegelowiges,
en weet daarmee in hierdie lewe is ons nooit alleen nie.
Ons is ‘n gemeenskap van gelowiges, en bo alles,
is die Here teenwoordig by ons.
Die nagmaal maak ook vir ons die venster oop
op ons ewige toekoms saam met God!
Ons vier daarom die ewige lewe met groot vreugde!
“The greatest sin is to be joyless” – Dorothy Sayers.
Ons gaan leef daarom met dankbaarheid vir wat die Here
vir ons gedoen en verwerf het aan die kruis.

Ernest