In Jesus se lydenstyd gaan nog ‘n dissipel Hom in die steek laat.
Min van ons sou verwag dat dit Petrus sal wees.
Judas se liefde vir Jesus het afgekoel.
Maar niemand twyfel aan Petrus se liefde vir die Here nie.
Wat was die probleem?
Hy steun op sy getrouheid aan Jesus,
in plaas van op Jesus se getrouheid aan hom.
Ons moet hierdie fyn onderskeiding onthou.

Matteus 26:33-34 sê:
“Petrus kon dit nie meer hou nie:
“Al hardloop almal weg en maak of hulle U nie ken nie,
hoef U nie bekommerd te wees nie.
“Petrus”, sê Jesus, hoor wat Ek vir jou sê: vannag nog,
voor die haan moet kraai,
sal jy drie maal ontken dat jy ooit iets met My te doen gehad het.”

Petrus het dit eerlik bedoel.
Op grond van sy getrouheid aan Jesus,
en sy liefde vir Jesus, asook sy geloof in Jesus.
Maar hy fokus op sy eie getrouheid, liefde en geloof.
Hy oorskat einlik homself.
Dit gebeur maklik dat jy vertrou op jou eie geloof in Jesus,
hoe sterk jou eie geloof is,
in plaas van op Jesus self. Om net te vertrou op Jesus!
Wat is die verskil?
In die eerste geval vertrou jy eintlik op jouself,
en in die tweede net op Jesus alleen.

Ware geloofsekerheid is nie om seker te wees van jou eie geloof nie.
Ons weet dat twyfel so dikwels deel uitmaak van ons geloof.
Ware geloofsekerheid is om seker te wees van Jesus.
Ek kan Hom in die steek laat, soos Petrus ook sou doen.
Maar Hy sal my nooit in die steek laat nie.

Geloof gaan nie oor hoe goed en getrou ek is nie,
maar oor hoe goed en getrou Jesus is.
Wanneer ons dit onthou, sal die Heilige Gees ons inspireer,
om saam met Jesus in sy voetspore te leef.
Dan fokus ons op Hom en nie op onsself nie.

Ernest