Wanneer Jesus in sy lyding die intensiteit daarvan beleef,
dan bid Hy. Matteus 26:31:
“Jesus het ‘n paar tree verder gaan kniel.
Met sy gesig tot teen die grond gebuig, begin Hy bid:
“My Vader, is daar enige kans dat Ek die pad wat
vir My voorlê nie hoef te loop nie? Is daar ‘n uitweg?
Maar Ek probeer nie allerhande planne maak nie.
Maak U die planne, asseblief! Doen wat U wil.”

Draai Jesus net na God toe in sy krisisuur?
Nee, verseker nie.
Ons lees gereeld van sy gebedstye saam met sy Vader.
Ons moet nie in ‘n patroon verval om nét
in donker ure na God te draai vir hulp nie.
Maar ons kan dit veral in donker ure doen!
Dit is wat Jesus hier doen.
Hy gaan worstel in Getsemane met sy Vader oor sy lyding.
Maar Hy plaas ook alles binne die raamwerk van sy Vader se wil.
Wat beteken God se wil in hierdie opsig?
Eenvoudig gestel:
God weet altyd die beste.
Bly daarom gehoorsaam aan Hom in alle omstandighede.

Onthou in donker ure drie dinge:
Weet dat jy ‘n kind van God is.
Hou vas aan jou aardse roeping van God af.
Weet waar jou krag vandaan kom.
En bid volgens hierdie drie oortuigings.

In die Tweede Wêreldoorlog het iemand teen ‘n muur geskryf:
“Ek glo in die son, ook wanneer dit nie skyn nie.
Ek glo in die liefde, ook wanneer dit nie gegee word nie.
Ek glo in God, selfs ook wanneer Hy stil is.”

Ernest