Matteus 27:16-17:
“Juis in daardie tyd was daar ‘n berugte gevangene,
met die naam Jesus Barabbas. Terwyl die skare gevaarlik begin saamdrom,
vra Pilatus hulle: “Wie wil julle hê moet ek vir julle vrylaat:
Jesus Barabbas, of Jesus die sogenaamde Messias?”
Jesus was ‘n algemene naam in daardie tyd van Jesus.
In die geval van Jesus weet ons Hy is Seun van die Vader.
Die naam Barabbas beteken letterlik in Hebreeus “seun van die vader”.
Die keuse was die dag van die kruis dus baie ironies:
Barabbas, seun van die vader, man van geweld.
Of, Jesus, die Seun van die Vader, Man van liefde.
Geen wonder Pilatus was sy hande in onskuld nie….
Een ding is opvallend, en ons dink nie eintlik so daaraan nie:
Barabbas was seker die eerste persoon in die geskiedenis,
wat met absolute sekerheid geweet het dat Jesus
in sy plek vir hom gesterf het.
In sy roman, “Barabbas”, vertel Pär Lagerkvist hoe Barabbas,
asof met ‘n onsigbare hand saamgesleep word,
om te sien wat alles met Jesus gebeur het.
Alles dinge wat na regte met homself moes gebeur het.
Maar hy is vrygelaat. Hy loop saam met die prosessie.
Hy sien hoe die drie mans aan die kruis vasgespyker word.
Hy hoor die gevloek van die soldate.
Hy hoor die angskrete van die gekruisigdes.
En uituindelik die verskriklike woorde van Jesus:
“My God, my God, waarom het U my verlaat?”
Barabbas moes seker oor en oor vir homself gesê het:
“Ek moes daar hang. Ek is vrygelaat. Hierdie Jesus sterf in my plek.
Omdat Jesus in my plek sterf,
kan ek as berugte moordenaar vry wegstap!”
Ons weet nie verder oor Barabbas nie.
Of hy tot geloof gekom het nie.
Maar ons moet wel weet dat hy ons verteenwoordiger by die kruis is.
Hy is ek. Ek wat daar moes sterf, vir my oortredinge.
En in my plek hang Jesus daar aan die kruis.
Net soos Barabbas kan ek nou vry wees,
omdat Jesus in my plek gesterf het.
Ernest