Matteus 27:29-30:
“Hulle het ook ‘n krans van dorings gevleg en dit op sy kop gesit,
en ‘n rietsepter in sy regterhand.
Toe maak hulle kniebuigings voor Hom en roep spottend:
“Ons groet u,o Koning van die Jode!”
Boonop het hulle Hom bespoeg en die riet by Hom gegryp,
en Hom daarmee teen die kop geslaan.”
Daar is geen ander godsdiens wat vertel van ‘n God
wat die diepte en seer van ons lydig ervaar het nie.
Daarom volg ons ook die enigste God.
Daar is niemand soos God nie en geen ander lewende gode nie.

Een van die ergste tonele in die fliek “The Passion of the Christ”,
is waar die soldate Jesus slaan.
Mense sê dit was te ontstellend. Feit van die saak is; dit is hoe dit was.
Maar Jesus het na gees nog meer gely as na liggaam.
Dit kan ons nie eers waarneem of bedink nie.
Daarom sê die geloofsbelydenis dat Hy “ter helle neergedaal het”,
en daarmee helse pyn en smart beleef en verduur het.

Hartseer en swaarkry is deel van ons menswees.
Maar ons kan nie eers dink wat die graad van Jesus
se lyding moes wees nie.
Hy het intense fisiese, sowel as emosionele,
en geestelike pyn en lyding ervaar.
Daarom weet ons dat die Here ons pyn ken en verstaan.
Augustinus het geskryf:
“Jesus het jou lief asof jy die enigste een is om lief te hê.”
Hy is geslaan en gespoeg en gespot,
sodat ons kan weet wanneer die lewe dit aan ons doen,
ons in die krag van die Here kan terugveg,
omdat ons in Hom die oorwinning behaal het.
Niks, maar niks, sê Romeine 8, kan ons van God se liefde skei nie.
Die Liefde wat Hy vir ons het, in Jesus Christus!

Ernest