Wanneer iets met ons verkeerd loop sê ons dikwels:
“Ek was op die verkeerde tyd op die verkeerde plek.”
Dalk het Simon van Sirene ook dié dag so gedink,
toe hy Jesus se kruis moes dra.
Maar as hy later in sy lewe teruggekyk het, het hy seker gesê:
“Ek was toe op die regte plek op die regte tyd.”

Matteus 27:31-33 vertel daarvan:
“Daarna het hulle die pad gevat na die plek toe
waar hulle gewoonlik die mense gekruisig het.
Op pad kry hulle vir Simon. Hy het uit Sirene in Afrika gekom.
Voor hy hom kom kry, moes hy Jesus se kruis verder dra.
So is hulle na die plek wat Golgota,
oftewel “Plek van die Kopbeen”, genoem is.”

Anton Lang het vir ‘n lang tyd die rol van Jesus gespeel,
in die passiespel van Oberammergau.
Na die vertoning kon mense die deelnemers ontmoet.
‘n Amerikaner het Anton se kruis, wat hy in die opvoerings gedra het,
probeer optel, om ‘n foto daarvan te laat neem waar hy die kruis dra.
Hy kon die kruis byna nie oplig nie, wat nog dra.
Hy het vir Anton gevra waarom hy so ‘n swaar kruis dra.
Hulle kan dit immers uithol en van ligte hout maak.
Anton Lang het hom aangekyk en diep opreg gesê:
“If I did not feel the weight of His cross,
how could I possibly play His part?”

Wanneer ons naby aan die kruis van die Here leef,
sal ons dit ook dikwels moet dra.
Die Here het immers self in Lukas 14:27 gesê:
“Iemand wat nie sy eie kruis dra en agter My aan kom nie,
kan nie my dissipel wees nie.”
Simon van Sirene, en die verhaal van Anton Lang, laat ons besef:
Om Jesus te volg is nie altyd maklik nie.
En die Here het dit ook self gesê dat ons moeilike tye sal hê.
Maar dit is lewensveranderend en bring ewige lewe!

Ernest