Is ons so gereed as wat ons dink?
In die lydenstyd is dit goed om hieroor na te dink.
Is ons so gereed en getrou as wat ons dink?
Petrus het gedink hy is gereed en getrou,
en sal gehoorsaam wees aan enige iets wat sy Meester vra.
Lukas 22:31-32:
“Simon”, het Jesus gesê. “Let op, die Satan het ernstig geëis,
om julle soos koring te kan sif, maar Ek het vir jou gebid,
dat jou geloof jou nie moet begewe nie.” ‘n Haan het gekraai.”
Later sê vers 61-62: “Die Here het omgedraai en Petrus aangekyk.
En hy het buitentoe gegaan en onbedaarlik gehuil.”

Petrus het gedink hy is klaar ‘n rots.
Dit is immers wat sy naam beteken.
Daarom gebruik Jesus liewer sy ander naam: Simon.
Ons krag kom nie van onsself nie.
Petrus is ‘n rots….net omdat die Here hom rotsvas maak.

Jesus stel dit duidelik dat die Bose ons bloed soek.
Gelukkig en genadiglik vir ons staan daar teenoor
die siftende Satan….‘n biddende Jesus!
Bly gefokus op die Here.
Hy laat ons ook opstaan as ons val.
H.G. Wells het geskryf:
“A man may be a bad musician,
and yet be passionately in love with music.”
Dit is die verhaal van Petrus.
Hy het geval, maar hy het weer opgestaan,
omdat hy Jesus passievol liefgehad het.
Die Skotse leraar, Alexander Whyte, het dit so beskryf:
“Dit is neerval en opstaan, en neerval en opstaan,
en neerval en opstaan, al die pad hemel toe.”
Word altyd gedryf deur die Here se liefde vir jou,
en jou liefde vir Hom, want dit laat jou vorentoe leef!

Ernest