Goeie Vrydag is die dag toe Jesus vir ons die weg oopgemaak het,
na God toe.

Markus 15:33-34 en 37-38:
“Om twaalfuur het Jesus baie hard uitgeskreeu:
“My God, my God, hoekom het U my verlaat?”…
Jesus het hard uitgeroep en sy laaste asem uitgeblaas.
Daarna het die swaar gordyn in die tempel in twee geskeur,
van bo tot onder”.

Die tempel se gordyn wat skeur het belangrike betekenis:
Die weg na God is wawyd oop. Ons kan met vrymoedigheid na God gaan.
Eers kon net die hoëpriester een keer per jaar ingaan in die allerheiligste.
Nou is almal welkom om in te gaan na God toe.
Nou kon mense na Jesus kyk en sien hoe God is en hoe lief Hy ons het.
Goeie Vrydag is inderdaad ‘n goeie dag!

Die Hillsborough-tragedie in Sheffield, Engeland,
was in 1989 toe 96 ondersteuners van die Liverpool sokkerspan
gesterf het by ‘n F.A.-Cup-semi-finaal.
By die plaaslike hospitaal moes mense uitvind dat hul vriende,
huweliksmaats, of hul kinders, of ouers dood is.
‘n Christen dokter het een vir een saam met mense gebid.
Hy het vir ‘n man, wat pas gehoor het dat sy seun dood is,
gevra of hy saam met hom kan bid.
Die man het in trane uitgeroep:
“God! What does bloody God know about losing a son?”

Die antwoord op die man se intense vraag is: Alles!
God het ook sy geliefde Seun aan die dood afgestaan.
God ken ons pyn en smart.
Goeie Vrydag het vir ons goed geword,
omdat God na ons verlorenheid en pyn toe gekom het op die dag.
Dit het Hom sy kosbaarste gekos…

Ernest