Dit was wat die leierpriesters en die Fariseërs ten alle koste wou doen.
Hulle wou ten alle koste Jesus in die graf hou.
Matteus 27:62-64:
“Die dag ná die Vrydag het die leierpriesters en die Fariseërs
met Pilatus gaan praat. Hulle het vir hom gesê:
“U Edele, ons onthou hierdie bedrieër het, toe hy nog gelewe het, gesê:
“Na drie dae sal ek uit die dood opstaan”.
Daarom versoek ons u om opdrag te gee
dat die graf vir drie dae bewaak word.”
Daar is ironie en humor in die optrede van die priesters en Fariseërs.
Hulle is bang die dissipels sal Jesus se liggaam kom steel.
Maar hulle besef nie dat hulle nie met die dissipels te doen het nie,
maar met God self, in terme waarvan hul maatreëls lagwekkend is.
Hulle wil alle skuiwergate toemaak.
Daarom is hulle selfs bereid om op die Sabbat hul eie streng reëls te breek.
Om seker te maak dat Jesus finaal uit die weg geruim is,
gaan sien hulle Pilatus op die heilige Sabbat.
Was daar by hulle net die vaagste vermoede,
dat Jesus sou doen wat Hy gesê het…?
Pilatus gee opdrag dat die graf beveilig moet word.
Asof hy sê: hou vir Jesus in die graf as julle kan…
Niks of niemand sou Jesus in die graf kon hou nie.
Want Hy is Self God.
Ernest