God se wil is die redding van mense deur Christus
2 Petrus 3:9: “Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie,
al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle,
omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie:
Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.”

Petrus stel dit helder en duidelik dat God nie wil hê
iemand moet verlore gaan nie, maar dat almal gered moet word.
Dit is God se wil. God skep nie mense vir die verderf nie.
God stuur Jesus na die wêreld omdat Hy sondaars wil red.
Jesus bring God se wil na ons toe, om in verhouding met God te leef.
Maar Jesus kom voer ook God se wil uit in hierdie wêreld.
Deur dit tot aan die kruis te doen bring Hy versoening tussen God en ons.

Daarom is God se wil verhoudingsmatig. God se wil is ‘n verhouding!
Jy kan nie God se wil doen sonder om in ‘n verhouding met God te leef nie.
En die DNS van hierdie verhouding is om God se liefde te beantwoord met liefde.
Die meeste mense wat op soek is na God se wil,
worstel met vrae oor wat God se wil is binne hierdie of daardie situasie.
Die klem gaan lê op dóén, in plaas van verhouding.
Reg of verkeerd, in plaas van of ek in liefde vir God leef.
Die Bybel praat nie in die eerste plek so daaroor nie.
God se wil gebeur altyd verhoudingsmatig.
Die Bybel vra nie dieselfde vrae oor God se wil as wat ons dikwels vra nie.
God se wil gebeur in die hemel. Jesus leer dit ook vir ons in sy gebed.
Hy leer ons bid: “…laat U wil OOK op die aarde geskied,
NET SOOS IN DIE HEMEL…”
Ook in die hemel gebeur God se wil verhoudingsmatig.
Die liefdevolle verhouding tussen die hemelse Vader en hulle wat in die hemel is.
Nou is dit ook die Vader se liefdeswil dat alle mense op aarde sy vrede sal ervaar.
Daarom kom Jesus aarde toe om God se wil en God se koninkryk aarde toe te bring.
Dikwels wil ons wetties “reg doen” maar ons leef nie in verhouding met God nie.
Dan leef ons “reg”, maar liefde is nie die kern van ons bestaan nie.
God se wil is om Hom bo alles lief te hê.
Dit is God se wil.

Ernest