God is self die Outeur van sy Woord.
Al het die Bybel oor duisende jare ontstaan,
is dit juis merkwaardig dat dit die Bybel ten diepste
die werk van die Heilige Gees is.
Om God se wil reg te ontdek en reg te hoor,
moet die Bybel verantwoordelik en reg gelees word.
Ons kan nie na willekeur in die Woord inplons,
en die betekenis buite konteks op jou lewe toepas,
net omdat dit reg klink of voel nie.
Die Bybel is nie ‘n goedvoel-boek of ‘n bemoedigings-boek nie,
wat jou moet laat goed voel,
en al die antwoorde op jou vrae moet gee nie.
Die Bybel is nie ‘n geestelike “Google” om jou vrae te beantwoord nie.
Die Bybel is God se Woord, oor God se wil, en dit fokus op God, nie op jou nie.

Ons moet daarom nie die Bybel lees uit plig nie.
Ons lees ook nie die Bybel om ons gewete te sus of af te koop nie.
Die eerste vraag is nie “wat wil God vir mý sê in die Bybel?” nie.
Die vraag is: “Wat sê die Bybel telkens oor God?”
God se wil gaan in die eerste plek oor God.
Die Bybel vertel jou dan hoe om in die regte verhouding met God te leef.
Vertrou dan die Heilige Gees,
om telkens die Woord van God vir jou oop te maak,
om God reg te hoor oor sy wil,
waarby jy geheel en al inval met jou hele lewe.

2 Timoteus 3:15:
“Jy ken van kleins af die heilige Skrif.
Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei,
deur die geloof in Christus Jesus.”

Ernest