Bloudrukke is onbuigbare meesterplanne
waarvolgens alles in detail moet gebeur.
Party mense sien God se wil só.
‘n Meesterplan wat Hy vir elke afsonderlike persoon ontwerp het.
Dan sê ons graag dat “God ‘n unieke plan vir jou lewe het.”
Ons moet mooi hieroor dink.
Hierdie siening maak van baie mense lewenslange slagoffers.
Hulle soek hul lewe lank in letterlik alles na die sleutels van hierdie bloudruk.
Hulle dink hul kan dan net gelukkig wees as hul presies daarvolgens lewe.
Wanneer ons by wyse van so ‘n bloudrukmodel aan God se wil dink,
glo ons daar is ‘n onbuigsame bloudrukplan oor alle sake in ons lewe.
Soos met wie ons moet trou, presies waar ons moet werk,
presies wat ons moet studeer, presies waar ons moet bly,
presies hoeveel kinders ons moet hê…..
En die lys kan langer en langer gemaak word.
Elke keuse word ‘n groot indiwidualisties gerigte soektog,
na God se presiese wil vir mý lewe.
En die klem val op my, in plaas van op God.
God se wil is nie ‘n geïndividualiseerde bloudruk vir jou lewe nie.
Indien God so te werk sou gaan, sou ons heeltyd in en uit sy wil beweeg.
Selfs die mees toegewyde gelowige op aarde, sou dan in God se wil wees,
en dan weer uit wees uit God se wil.
Nooit sou iemand weet of jy nou presies op God se bloudrukplan vir jou is nie.
Hierdie denke oor God se wil, maak God se wil los van sy wil in Jesus Christus vir jou.
Dan word God se wil geskei van Wie Hy is en wat Hy doen,
na wat Hy vir óns moet doen, en sy planne wat hy vir óns lewe moet hê.
Onthou eenvoudig 2 Timoteus 2:11:
“Dit is ‘n betroubare word:
As ons saam met Hom gesterf het, sal ons ook saam met Hom lewe.”
Ernest